Inkas
| ||||
| Hoofstad | Cusco 13°31′S 71°58′W / 13.517°S 71.967°W | |||
| Taal/Tale | Quechua (amptelik), Aymara | |||
| Godsdiens | Inka-mitologie | |||
| Regering | Monargie | |||
| Sapa Inka | ||||
| - 1438–1471 | Pachacuti | |||
| - 1471–1493 | Túpac Inca Yupanqui | |||
| - 1493–1525 | Huayna Capac | |||
| - 1525–1532 | Huáscar | |||
| - 1532–1533 | Atahualpa | |||
| Historiese tydperk | Middeleeue | |||
| - Pachacuti stig die Inka-ryk | 1438 | |||
| - Burgeroorlog tussen Huáscar en Atahualpa | 1529-1532 | |||
| - Spaanse verowering van die Inka-ryk | 1533 | |||
| - Einde van die laaste weerstand deur Inkas | 1572 | |||
| Oppervlakte | ||||
| - 1438[1] | 800 000 km2 308 882 sq mi | |||
| - 1527 | 2 000 000 km2 772 204 sq mi | |||
| Bevolking | ||||
| - 1438[2] skatting | 12 000 000 | |||
| Digtheid | 15 /km² 38,8 /sq mi | |||
| - 1527 skatting | 20 000 000 | |||
| Digtheid | 10 /km² 25,9 /sq mi | |||
Die Inkas se ryk, amptelik bekend as Tawantinsuyu (Quechua vir "die vier dele saam"), was die grootste ryk in die voor-Columbiese Amerika. Die administratiewe, politieke en militêre middelpunt daarvan was die stad Cusco in die Andes van wat vandag Peru is. Die Inkabeskawing het vroeg in die 13de eeu uit die Peruaanse hoogland ontstaan, en tussen 1438 en 1533 het die Inkas 'n groot deel van westelike Suid-Amerika deur verowering sowel as vreedsame inlywing by hul ryk gevoeg. Op sy grootste het dit die huidige Peru met westelike Ecuador, westelike en suid-sentrale Bolivië, die noordweste van Argentinië, die suidelikste punt van Colombia en 'n groot deel van Chili verenig. Die amptelike taal was Quechua.[3]
Die Inkaryk was besonders daarin dat dit sonder baie van die kenmerke bestaan het wat met beskawings in die Ou Wêreld verbind word. Die antropoloog Gordon McEwan het geskryf dat die Inkas "een van die grootste keiserlike state in die menslike geskiedenis" kon bou sonder die wiel, sonder trekdiere, sonder kennis van yster of staal en sonder eers 'n skryfstelsel. Van die opvallendste kenmerke van die ryk was sy monumentale argitektuur – veral die klipwerk – die uitgebreide padnetwerk (die Qhapaq Ñan) wat tot in alle hoeke van die ryk gereik het, fyn geweefde tekstiel, die gebruik van geknoopte toue (quipu) vir rekordhouding, landboukundige vernuwing in 'n moeilike omgewing, en die organisasie van sy mense en hul arbeid.[4]
Die ryk het grotendeels sonder geld en sonder markte gefunksioneer. Die uitruil van goedere en dienste is eerder op wedersydigheid gebaseer, tussen individue sowel as tussen individue, groepe en die Inkaheersers. "Belasting" het uit 'n arbeidsverpligting teenoor die ryk bestaan, en die heersers – wat teoreties al die produksiemiddele besit het – het in ruil toegang tot grond en goedere verleen en kos en drank by feeste vir hul onderdane verskaf.[3]
Die Inkabeskawing het 'n glorietyd beleef wat geduur het van 1438 tot 1532. Die Inka-ryk is vernietig deur die Spaanse conquistadores onder leiding van Francisco Pizarro. Die Inka-ryk het op sy hoogtepunt rofweg die huidige lande Peru, Bolivië, Ecuador, die suide van Colombia en die noorde van Argentinië en Chili beslaan. Baie van die geboue in die Peruaanse stad Cusco is gebou op die oorblyfsels van Inka-geboue, aangesien Cusco eens die hoofstad van die ryk was. Een van die bekendste ruïnestede van die Inkas is Machu Picchu in Peru.
Dit was egter eers in 1531 dat kapt. Francisco Pizarro, pas aangestelde verteenwoordiger van koning Karel V van Spanje, met 180 manskappe en 27 perde in drie skepe vertrek het om die bergagtige en goed verdedigde land Peru, die land van die Inkas, binne te dring. Die term Inka word vandag gebruik om die Indiaanse stamme en kultuur te beskryf wat die Spanjaarde in Peru, Ecuador, Bolivia en Noord-Chili aangetref het.
Die ekspedisie het op 13 Mei 1532 naby Tumbes geland. Die Inkas was in daardie stadium pas klaar met 'n uitputtende burgeroorlog. Atahualpa, wat die oorlog gewen het, was nou die Inka, of aangewese keiser, maar hy het nie die mag van die vreemde aanvallers besef nie. Die Spanjaarde het min weerstand ondervind totdat hulle die stad Cajamarca (Kajamarka) bereik het.
Hier is hulle deur 50 000 Inka-krygsmanne omsingel. 'n Ontmoeting is tussen Pizarro en Atahualpa gereël. Maar die Spanjaarde, gewapen met gewere, het die Inkas onverwags aangeval, 2 000 inboorlingwagte - wat ongewapen opgedaag het om nie aanstoot te gee nie - doodgeskiet en Atahualpa gevange geneem. In daaropvolgende vyf jaar het die Spanjaarde die hele antieke ryk van die Inkas beset. Skatte ter waarde van miljoene rande het in die hande van die Spaanse oorwinnaars (bekend as die conquistadores), die Spaanse kerk en die Spaanse koning geval.
Die verowering van so 'n groot gebied deur 'n handjievol fortuinsoekers is een van die merkwaardigste gebeurtenisse in die geskiedenis. Dit het met herhaalde verraad en die uitmoor van die inheemse bevolking gepaard gegaan. Dat dit so lank geduur het om die Inkas te oorwin, moet toegeskryf word aan die feit dat die ryk georganiseer was, en dat die Inka al die mag gehad het. Toe hy dus deur 'n Spaanse goewerneur en administrasie vervang is, het alles baie lank nog volgens die ou stelsel voortgegaan.
Naam
[wysig | wysig bron]Die Inkas het na hul ryk as Tawantinsuyu verwys, "die suyu van vier dele". In Quechua is tawa vier en is -ntin 'n agtervoegsel wat 'n groep aandui, sodat 'n tawantin 'n viertal is – in hierdie geval die vier suyu of streke waarvan die hoeke by die hoofstad bymekaargekom het. Die vier suyu was Chinchaysuyu in die noorde, Antisuyu in die ooste (die Amasone-oerwoud), Qullasuyu in die suide en Kuntisuyu in die weste. Die naam Tawantinsuyu was dus 'n beskrywende term wat op 'n vereniging van provinsies dui; die Spanjaarde het dit gewoonlik as Tahuatinsuyo getranskribeer.[4]
Hoewel die woord inka vandag as "heerser" of "heer" uit Quechua vertaal word, het dit nie net na die koning van Tawantinsuyu – die Sapa Inka – verwys nie, maar ook na die Inka-adel. Dié adel was 'n klein deel van die totale bevolking, vermoedelik net 15 000 tot 40 000 mense, wat oor 'n bevolking van sowat tien miljoen geheers het. Toe die Spanjaarde in die ryk aangekom het, het hulle die naam Peru gegee aan wat die inwoners as Tawantinsuyu geken het, en die benaming "Inkaryk" kom uit die kronieke van die 16de eeu.[4]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Voorgangers
[wysig | wysig bron]Die Inkaryk was die laaste hoofstuk van duisende jare se Andes-beskawings. Twee grootskaalse ryke het die Inkas in die Andes voorafgegaan: Tiwanaku (ongeveer 300 tot 1100 n.C.), gesentreer om die Titicacameer, en Wari of Huari (ongeveer 600 tot 1100 n.C.), naby die stad Ayacucho. Die Wari het die Cusco-gebied vir sowat 400 jaar beset, en baie van die kenmerke van die Inkaryk – duisende kilometer paaie, groot administratiewe sentrums met verfynde klipwerk, terrasse teen berghange en die vervaardiging van groot hoeveelhede goedere – kom by dié vroeër, multi-etniese Andes-kulture vandaan.[3]
Die geograaf Carl Troll het aangevoer dat die ontwikkeling van die Inkastaat in die sentrale Andes gehelp is deur toestande wat die vervaardiging van chuño toelaat, 'n stapelvoedsel wat lank gebêre kan word en gemaak word van aartappels wat by die vriestemperature van die suidelike Andes-hoogland se nagte gedroog word. Troll het ook daarop gewys dat die lama, die Inkas se pakdier, juis in dieselfde streek in sy grootste getalle voorkom: die grootste omvang van die ryk het rofweg saamgeval met die verspreiding van lamas en alpakas, die enigste groot mak diere in die voor-Spaanse Amerika.[3]
Oorsprong en die koninkryk van Cusco
[wysig | wysig bron]Die Inkas was in die 12de eeu 'n herdersstam in die Cusco-gebied. Vroeg in die 13de eeu het hulle onder leiding van Manco Capac die klein stadstaat, die koninkryk van Cusco, gevorm, waar Manco Capac 'n tempel vir die songod, Inticancha, gebou het op die plek van die latere Coricancha. Onder die opeenvolgende heersers het hulle hul invloed buite Cusco en die Heilige Vallei in uitgebrei deur 'n reeks veldslae, huwelike en bondgenootskappe.[4]
In 1438 het 'n verreikende uitbreiding onder bevel van die negende Sapa Inka, Pachacuti Cusi Yupanqui, begin. Sy bynaam Pachacuti beteken "die omwenteling van die wêreld" en is aan hom gegee nadat hy die Chanka-stam in die Chanka-Inka-oorlog verslaan het. Gedurende sy regering het hy en sy seun Túpac Yupanqui die grootste deel van die huidige Peru onder Inka-beheer gebring.[3]
Pachacuti het die koninkryk van Cusco in Tawantinsuyu herorganiseer: 'n sentrale regering met die Inka aan die hoof en vier provinsiale regerings met sterk leiers. Daar word gemeen dat hy Machu Picchu gebou het, hetsy as 'n familiewoning of somerverblyf, hoewel dit ook 'n landboustasie kon gewees het. Hy het spioene na streke gestuur wat hy wou inlyf en verslae oor hul politieke organisasie, militêre sterkte en rykdom ontvang, en dan boodskappe aan hul leiers gestuur waarin hy die voordele van aansluiting by sy ryk uitgestal en luukse geskenke soos hoëgehaltetekstiel aangebied het. Die meeste het die Inka-heerskappy vreedsaam aanvaar; weiering het op militêre verowering uitgeloop, waarna die plaaslike heersers tereggestel is en hul kinders na Cusco gebring is om die Inka se administrasiestelsel te leer voordat hulle na hul eie streke teruggegaan het om daar te regeer.[4]
Uitbreiding
[wysig | wysig bron]Túpac Inca Yupanqui het in 1463 met veroweringe in die noorde begin en dit ná Pachacuti se dood in 1471 as heerser voortgesit. Sy belangrikste verowering was die koninkryk van Chimor, die Inkas se enigste ernstige mededinger aan die kus, en sy ryk het daarna noord tot in wat vandag Ecuador en Colombia is, gestrek. Sy seun Huayna Capac het 'n verdere klein stukkie grond in die noorde bygevoeg.[3]
Volgens die tradisionele geskiedskrywing het die opmars suidwaarts ná die Slag van die Maule tot stilstand gekom, waar die Inkas op beslissende weerstand van die Mapuche gestuit het. Dié siening word deur die historikus Osvaldo Silva bevraagteken, wat eerder aanvoer dat dit die maatskaplike en politieke struktuur van die Mapuche was wat die grootste struikelblok vir keiserlike beheer was, en dat die Inkas nie dieselfde prikkels vir verowering gehad het as wanneer hulle teen meer komplekse samelewings soos die Chimú geveg het nie. Die ryk se opmars in die Amasonebekken naby die Chinchipe-rivier is in 1527 deur die Shuar gestop.[3]
Eerste kontak, burgeroorlog en verowering
[wysig | wysig bron]Die Portugese verkenner Aleixo Garcia, 'n skipbreukeling wat in Brasilië gewoon het, was in 1524 die eerste Europeër wat bekend is met die Inkaryk in aanraking te gekom het, tydens 'n strooptog saam met 'n Guaraní-mag.[4] Spaanse conquistadores onder Francisco Pizarro het van die huidige Panama suidwaarts verken en Inka-gebied teen 1526 bereik. Ná 'n verdere ekspedisie in 1529 het Pizarro na Spanje gereis en koninklike goedkeuring gekry om die streek te verower en die onderkoning daarvan te wees: in Julie 1529 het die koningin van Spanje 'n oktrooi onderteken wat hom as goewerneur en kaptein van alle veroweringe in Peru – of Nieu-Kastilië, soos die Spanjaarde die land nou genoem het – aangestel het.[3]
Benewens die opvolgingsoorlog het epidemies van Europese siektes die ryk vermoedelik reeds in die 1520's getref. Die eerste daarvan het waarskynlik Huayna Capac en sy aangewese erfgenaam Ninan Cuyochi gedood, saam met 'n onbekende maar vermoedelik groot aantal ander onderdane; die vroegste geskrewe berigte oor Huayna Capac se dood stem nie volledig oor die oorsaak saam nie.[4]
Die mag wat Pizarro tot by Cajamarca gebring het, het uit 168 man, een kanon en 27 perde bestaan, gewapen met lanse, haakbusse, staalwapenrusting en lang swaarde. Die Inkas het teenoor hulle wapens van hout, klip, koper en brons gebruik en wapenrusting van alpakavesel, wat hulle op 'n groot tegnologiese agterstand geplaas het: nie een van hul wapens kon die Spaanse staalrusting deurdring nie. Omdat daar geen perde in Peru was nie, het die Inkas ook nie taktiek teen ruitery ontwikkel nie.[3]
Die eerste treffe tussen die Inkas en die Spanjaarde was die Slag van Puná naby die huidige Guayaquil, waarna Pizarro in Julie 1532 die stad Piura gestig het. Hernando de Soto is landwaarts gestuur en het met 'n uitnodiging teruggekeer om Atahualpa te ontmoet, wat sy broer in die burgeroorlog verslaan het en met sy leër by Cajamarca uitgerus het. By dié ontmoeting het die Spaanse tolk, broer Vincente de Valverde, die Requerimiento voorgelees, wat geëis het dat die Inka en sy ryk die heerskappy van koning Karel I van Spanje aanvaar en tot die Christendom oorgaan. Atahualpa het die boodskap van die hand gewys en hulle gevra om te vertrek, waarna die Spanjaarde hul aanval begin het.[3]
Atahualpa het die Spanjaarde genoeg goud aangebied om die vertrek te vul waarin hy aangehou is, en twee keer soveel silwer. Die Inkas het die losprys betaal, maar Pizarro het hulle bedrieg en geweier om hom daarna vry te laat. Terwyl Atahualpa aangehou is, is Huáscar elders vermoor; die Spanjaarde het beweer dat dit op Atahualpa se bevel was, en dít is as een van die aanklagte gebruik toe hulle hom in Augustus 1533 tereggestel het.[4]
Die einde van die ryk
[wysig | wysig bron]Die Spanjaarde het Atahualpa se broer Manco Inca Yupanqui in die mag geplaas, en Manco het 'n tyd lank met hulle saamgewerk. Toe Pizarro se medewerker Diego de Almagro Cusco vir homself probeer opeis, het Manco die twis tussen die Spanjaarde probeer benut en die stad in 1536 herower, maar die Spanjaarde het dit teruggeneem. Manco Inca het toe na die berge van Vilcabamba onttrek en die klein Neo-Inkastaat gestig, waar hy en sy opvolgers nog 36 jaar geregeer het en soms strooptogte teen die Spanjaarde uitgevoer of opstande aangehits het. In 1572 is die laaste Inka-vesting verower en die laaste heerser, Túpac Amaru, Manco se seun, gevange geneem en tereggestel. Dít het die einde beteken van weerstand teen die Spaanse verowering onder die politieke gesag van die Inkastaat.[4]
Ná die val van die ryk is baie aspekte van die Inkakultuur stelselmatig vernietig, onder andere hul gesofistikeerde boerderystelsel. Spaanse koloniale amptenare het die Inkas se mit'a-stelsel van verpligte arbeid vir koloniale doeleindes gebruik, soms brutaal: een lid van elke familie is gedwing om in die goud- en silwermyne te werk, waarvan die vernaamste die enorme silwermyn by Potosí was, en wanneer daardie familielid gesterf het – wat gewoonlik binne 'n jaar of twee gebeur het – moes die familie 'n plaasvervanger stuur.[3]
Pokke was net die eerste epidemie. Ander siektes het gevolg: 'n vermoedelike tifus-uitbraak in 1546, griep en pokke saam in 1558, pokke weer in 1589, difterie in 1614 en masels in 1618. Die verspreiding is waarskynlik deur die Inkas se eie doeltreffende padnetwerk gehelp.[4]
Samelewing en regering
[wysig | wysig bron]Die vier suyu
[wysig | wysig bron]Die volkrykste suyu was Chinchaysuyu, wat die vroeëre Chimú-ryk en 'n groot deel van die noordelike Andes ingesluit het en op sy grootste tot in die huidige Ecuador en Colombia gestrek het. Die grootste suyu na oppervlakte was Qullasuyu, vernoem na die Aymarasprekende Qulla-volk, wat die Boliviaanse Altiplano en 'n groot deel van die suidelike Andes omvat het. Antisuyu, die tweede kleinste, het noordwes van Cusco in die hoë Andes gelê en die naam daarvan is die stam van die woord "Andes". Kuntisuyu, die kleinste, het langs die suidelike kus van die huidige Peru gelê.[3]
Wette en administrasie
[wysig | wysig bron]Die Inkastaat het geen afsonderlike regbank of gekodifiseerde wette gehad nie; gewoontes, verwagtinge en tradisionele plaaslike maghebbers het gedrag beheer. Die staat het regsdwang uitgeoefen deur onder andere die tukuy rikuq – letterlik "hy wat alles sien" – of inspekteurs. Die hoogste sodanige inspekteur, gewoonlik 'n bloedverwant van die Sapa Inka, het onafhanklik van die gewone hiërargie opgetree en so aan die heerser 'n gesigspunt vry van burokratiese invloed verskaf. Drie sedelike voorskrifte het gedrag gerig: ama sua (steel nie), ama llulla (lieg nie) en ama quella (wees nie lui nie).[3]
Aan die top van die staat was die Sapa Inka, wat die maskaypacha as magsimbool gedra het. Onder hom was moontlik die Willaq Umu, die hoëpriester van die son, en die Inkap rantin, 'n vertroueling en assistent wat met 'n eerste minister vergelyk kan word. Van Túpac Inca Yupanqui af het 'n "Raad van die Ryk" bestaan wat uit sestien edeles saamgestel is: twee elk uit die boonste en die onderste helfte van Cusco, vier uit Chinchaysuyu, vier uit Qullasuyu, twee uit Kuntisuyu en twee uit Antisuyu.[3]
Die provinsiale administrasie was in wese desimaal. Belastingbetalers – manlike gesinshoofde binne 'n bepaalde ouderdomsgroep – is in arbeidseenhede georganiseer wat dikwels ook as militêre eenhede gedien het en die staat se werkkrag as deel van die mit'a-diens gevorm het. Elke eenheid van meer as 100 belastingbetalers is deur 'n kuraka gelei, terwyl kleiner eenhede onder 'n kamayuq gestaan het, 'n laer en nie-erflike posisie:[3]
| Titel | Aantal belastingbetalers |
|---|---|
| Hunu kuraka | 10 000 |
| Pichkawaranqa kuraka | 5 000 |
| Waranqa kuraka | 1 000 |
| Pichkapachaka kuraka | 500 |
| Pachaka kuraka | 100 |
| Pichkachunka kamayuq | 50 |
| Chunka kamayuq | 10 |
Godsdiens
[wysig | wysig bron]Die Inka-mites is mondelings oorgedra totdat vroeë Spaanse koloniste hulle opgeteken het, hoewel sommige navorsers meen dat hulle ook op quipus vasgelê is. Die Inkas was politeïste wat baie gode vereer het. Onder hulle was Viracocha, wat alle lewende dinge geskep het; Inti, die songod en beskermgod van die heilige stad Cusco; Mama Killa, "moeder maan" en Inti se vrou; Pachamama, die aardgodin, aan wie kokablare en bier geoffer is en tot wie by belangrike landbougeleenthede gebid is; Illapa, die godin van weerlig en donderweer; en Apu Illapu, die reëngod. Baie plaaslike vorme van verering het in die ryk bly bestaan, die meeste daarvan rondom plaaslike heilige wak'as, maar die Inka-leierskap het die sonverering aangemoedig en sy oppergesag bo ander godsdiensgroepe gestel.[4]
Volgens die Inka-mitologie het Viracocha drie wêrelde geskep: Hanan Pacha, die boonste of hemelse wêreld, wat vir die regverdiges bewaar is en deur die kondor verteenwoordig is; Kay Pacha, die aardse wêreld waar mense woon, verteenwoordig deur die poema; en Uku Pacha, die wêreld onder of dié van die dooies, verteenwoordig deur die slang.[4]
Die Inkas het aan 'n hiernamaals geglo waarvan die tog daarheen vol moeilikhede was. Dit was vir hulle belangrik dat 'n mens nie deur verbranding sterf nie en dat die liggaam van 'n oorledene nie verbrand word nie, want dit sou die lewenskrag laat verdwyn en die deurgang na die volgende wêreld bedreig. Die Inka-adel het skedelvervorming toegepas: hulle het stywe lapbande om die koppe van babas gedraai om hul sagte skedels 'n meer keëlvormige vorm te gee en so die adel van ander maatskaplike klasse te onderskei. Die Inkas het ook mense geoffer, veral by belangrike geleenthede soos die dood van 'n Sapa Inka of tydens 'n hongersnood; sulke offers, dikwels van kinders, was as capacocha bekend.[4]
Die Inka
[wysig | wysig bron]Die Sapa Inka, wat die uitgestrekte gebied regeer het, is deur sy Indiaanse onderdane as 'n goddelike afstammeling van die songod beskou. Die grond, die mense, die aarde, alle goud (die sweet van die son) en silwer (die trane van die maan) was sy eiendom.
Hy moes onder meer sy mense teen oorlog en hongersnood beskerm, hy moes toesien dat die paaie in stand gehou word en hy moes die wet en orde handhaaf. Hy het honderde offisiere gehad wat hom met al hierdie take gehelp het. Sy hoofvrou, die koja, was die koningin. Die Inka het die reg gehad om haar bekwaamste seun as sy opvolger aan te wys. Na die Inka se dood is sy lyk gebalsem.
Argitektuur
[wysig | wysig bron]Die bekendste voorbeelde van die Inka-argitektuur is deur die regering volgens sorgvuldige planne opgerig. Die hoofstad, Cusco, was in ʼn vallei geleë. Die stad was in vier dele verdeel volgens die hoofpunte van die kompas en het twee sentrale pleine gehad. Die huis van die gewone stadbewoners het net een verdieping gehad, maar die van die welgestelde inwoners het uit twee en selfs drie verdiepings bestaan.
Die hoofgeboue is deur beroepsargitekte ontwerp. Dit was van lang stukke fyn afgewerkte, vierkantig gepakte klip, wat merkwaardig noukeurig in posisie geplaas is. Die koninklike paleise en die Sontempel is met goud oorgetrek. Die skouspelagtigste gebou in Cusco was die Goue Omheining (Coricancha). Hierdie tempel het vyf heiligdomme gehad, wat onderskeidelik aan die son, die maan, die sterre, die weerlig en die reën gewy was.
Op ʼn binneplein met die naam Veld van die Son was daar ʼn goue fontein, goue nabootsings van plante, 'n kunsmatige mielieland en lewensgroot goue modelle van lamas met goue wagters wat hulle oppas. Die vesting of pukara – Sacsayhuamán – op 'n heuwel agter die stad, is van rotsblokke gebou, waarvan party 20 ton geweeg het. Ambagsmanne het die blokke met klipgereedskap gesny. Die blokke is met bronsstawe uit die steengroewe gelig en op rollers vervoer. Altesame 30 000 werkers het 70 jaar aan die vesting gebou.
Die paaiestelsel
[wysig | wysig bron]Aangesien ‘n doeltreffende verbindingstelsel noodsaaklik was vir die regering van die land, is 'n uitstekende netwerk van paaie in stand gehou. Daar was duisende kilometer weervaste hoofweë, waarvan die belangrikste die Koninklike Pad (Qhapaq Ñan) en die Kuspad was. Eersgenoemde het oor die Andes-hoogland, deur die huidige Ecuador, Peru en Bolivië tot in Argentinië geloop.
Die Kuspad het van die grens by Tumbes tot in Chili gestrek. Die Koninklike Pad was 5 000 km en die Kuspad 4 000 km lank. Die hoofpaaie het 'n standaard-wydte van 7 m gehad. Aangesien die Inkas nie die wiel geken het nie, was die paaie nie vir voertuie bedoel nie, maar vir voetgangers en lasdiere. Kliptrappe het teen kranse opgelei, die riviere is deur hangbrûe, wat van veselkabels gemaak was, oorbrug, en moerasagtige gebiede is deur verhoogde grondpaaie, wat met plaveiklip uitgelê was, oorkruis.
Op sommige plekke is selfs tonnels deur heuwels gemaak. 'n Besondere kenmerk van die Peruaanse paaie was die sywalle, wat dryfsand gekeer en die kant van die pad aangedui het. Rushuise of tamboes is langs die paaie opgerig vir gebruik deur staatsamptenare op reis, en afstande is deur padtekens aangedui. Karavane lamas het die goedere vervoer, terwyl belangrike mense op draagstoele gedra is. Aflosboodskappers, die chasquis, het die Inka se boodskappe aan en verslae van sy goewerneurs in alle dele van die ryk oor hierdie paaie gedra. Wanneer die Inka die provinsies besoek het, het hy in praal op ʼn draagstoel gereis. Die draagstoel was ryklik versier met goud en silwer en met gordyne behang. Op sulke reise is hy deur die koninklike wag en 5 000 krygers, gewapen met slingervelle, vergesel. Die stoel is beurtelings deur tagtig draers gedra.
Ekonomie
[wysig | wysig bron]Die Inkaryk het sentrale beplanning toegepas. Hoewel kusgebiede binne die ryk met streke daarbuite gehandel het, was daar geen wesenlike interne markekonomie nie. Die meeste huishoudings het in 'n tradisionele ekonomie geleef waarin hulle skatting moes betaal, gewoonlik in die vorm van mit'a-arbeid en militêre verpligtinge, hoewel ruilhandel in party gebiede voorgekom het. In ruil daarvoor het die staat veiligheid verskaf, kos in tye van nood uit noodvoorrade beskikbaar gestel, landbouprojekte soos waterlope en terrasse aangepak om die produktiwiteit te verhoog, en van tyd tot tyd feeste vir sy onderdane aangebied. Naas die staat se mit'a het dorpe 'n voor-Inka stelsel van gemeenskapswerk gehad wat as mink'a bekend was en wat vandag nog voortbestaan. Die ekonomie het op die stoflike grondslag van die "vertikale argipel" gerus – 'n stelsel van ekologiese komplementariteit in die toegang tot hulpbronne op verskillende hoogtes – en op die kulturele grondslag van ayni, of wedersydse uitruil.[3]
Landbou
[wysig | wysig bron]Landbou was die belangrikste ekonomiese bedryf in Tawantinsuyu, gevolg deur veeteelt. Die landboutegnologie het op voorvaderlike kennis gerus: die andenes of terrasse teen berghange, wachaque of versonke lande, waru waru of verhoogde lande, en qucha of kunsmatige mere, saam met verbeterde werktuie soos die chaquitaclla, 'n voetploeg. Die aartappel was die stapelvoedsel, met meer as 200 spesies en 5 000 verskillende variëteite, terwyl mielies en koka as heilige plante beskou is. Die Inkas het selfs sentrums vir landboukundige eksperimentering gebou, soos Moray naby Cusco, waar die produkte van die hele ryk op sirkelvormige terrasse aangeplant is.[3]
Veeteelt
[wysig | wysig bron]Die lama en die alpaka was die enigste groot mak diere van die voor-Spaanse Amerika. Die lama het as pakdier gedien en die alpaka is vir sy wol geteel, terwyl albei ook vleis en vel verskaf het en by offers gebruik is. Die makgemaakte marmot was 'n verdere belangrike bron van vleis.[4]
Wetenskap en tegnologie
[wysig | wysig bron]Quipu, syfers en mate
[wysig | wysig bron]Die Inkas het inligting op bondels geknoopte toue, die quipu, aangeteken. Daar is oorspronklik gemeen dat quipus slegs as geheuehulpmiddels of vir syferdata gebruik is, maar daar word vandag ook vermoed dat hulle geskiedenis en letterkunde vasgelê het; hulle kan nie meer ontsyfer word nie. Getalle is in die knope in 'n tientallige stelsel geberg, dieselfde grondtal wat in die Quechua-taal en in die administratiewe en militêre eenhede gebruik is. Berekeninge is op yupanas gedoen, roosters met blokkies van wisselende wiskundige waarde wat moontlik as 'n abakus gedien het, deur hopies tekens, sade of klippies tussen die kompartemente te skuif.[4]
Die Inkas se maateenhede was op dele van die menslike liggaam gebaseer: vingers, die afstand van duim tot voorvinger, handpalms, elmate en armlengtes. Die basiese afstandseenheid was die thatkiy of tree, en die volgende grootste die topo, wat volgens die kroniekskrywer Bernabé Cobo 6 000 tree of sowat 7,7 km beloop het, hoewel noukeurige studie op 'n omvang van 4 tot 6,3 km dui. Dertig topo het 'n wamani gemaak. Dit blyk dat afstand dikwels as 'n dag se stap vertolk is: die afstand tussen tambo-rushuise wissel baie, maar die tyd om dit te loop veel minder.[3]
Kalender en sterrekunde
[wysig | wysig bron]Die Inka-kalenders was sterk aan die sterrekunde verbind. Inka-sterrekundiges het die dag-en-nag-newening, sonstilstande en senitdeurgange verstaan, sowel as die siklus van Venus, maar hulle kon nie verduisterings voorspel nie. Die kalender was in wese lunisolêr, met twee kalenders wat parallel gehou is, een son- en een maankalender. Aangesien twaalf maanmaande elf dae korter as 'n volle sonjaar van 365 dae is, moes dié wat vir die kalender verantwoordelik was, elke winterstilstand aanpassings maak. Elke maanmaand is met feeste en rituele gemerk. Dit lyk of die dae van die week nie name gehad het nie en nie in weke gegroepeer is nie, en die tyd binne 'n dag is nie in ure of minute gemeet nie maar aan hoe ver die son gevorder het of hoe lank dit geneem het om 'n taak te verrig.[4]
Geneeskunde
[wysig | wysig bron]Die Inkas het verskeie ontdekkings in die geneeskunde gemaak. Hulle het skedeloperasies suksesvol uitgevoer deur gate in die skedel te sny om die opbou van vloeistof en die ontsteking wat deur kopwonde veroorsaak is, te verlig. Die oorlewingskoerse was tussen 80 en 90 %, teenoor sowat 30 % voor die Inka-tydperk. Volgens die kroniekskrywer Bernabé Cobo het hulle ook 'n diepgaande kennis van kruiegeneeskunde gehad, en die Spaanse soldate het 'n inheemse chirurg meer vertrou as die barbiers wat hulle vergesel het.[4]
Wapens en oorlogvoering
[wysig | wysig bron]Die Inka-leër was die kragtigste inheemse mag in Suid-Amerika. Enige gewone dorpenaar of boer kon as soldaat opgeroep word as deel van die mit'a-stelsel van verpligte openbare diens: elke weerbare man van veglende ouderdom moes minstens een keer in 'n oorlog help en gereed wees om weer te veg wanneer nodig. Die Inkas het geen yster of staal gehad nie, en hul wapens – slingervelle, knopkieries met koper- of bronskoppe, strydbyle en speere – was nie veel doeltreffender as dié van hul teenstanders nie, sodat hulle dikwels bloot met oorwig in getalle oorwin het. Die grootste pukara of vesting van die ryk was Sacsayhuamán bo Cusco.[3]
Aanpassing by hoogte
[wysig | wysig bron]Die Inkas en hul voorgangers het oor duisende jare fisiologiese aanpassings ontwikkel om in die hoë Andes te kan leef, waar die suurstofdruk laag is. Andes-hooglanders het onder andere 'n groter longvolume, 'n hoër konsentrasie hemoglobien in die bloed en 'n groter hartuitset as mense op seevlak, wat hulle in staat stel om op hoogtes van meer as 4 000 m te woon en te werk.[3]
Sien ook
[wysig | wysig bron]Bronne
[wysig | wysig bron]- KENNIS, 1980, ISBN 0798108231, volume 1, bl. 173, 174
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) Namnama, Katrina; DeGuzman, Kathleen, "The Inca Empire", K12, USA, archived from the original on 27 Februarie 2008, https://web.archive.org/web/20080227081710/http://www.k12.hi.us/~jowalton/inca.ppt, besoek op 2 Maart 2012.
- ↑ (en) Namnama, Katrina; DeGuzman, Kathleen, "The Inca Empire", K12, USA, archived from the original on 27 Februarie 2008, https://web.archive.org/web/20080227081710/http://www.k12.hi.us/~jowalton/inca.ppt, besoek op 2 Maart 2012.
- 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 (en) D'Altroy, Terence N. (2014). The Incas (2de uitg.). Chichester: Wiley-Blackwell. ISBN 978-1-4443-3115-8.
- 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 (en) McEwan, Gordon F. (2008). The Incas: New Perspectives. New York: W.W. Norton. ISBN 978-0-393-33301-5.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Inkas.
