Sardyn
| Sardyn | |
|---|---|
| Wetenskaplike klassifikasie | |
| Domein: | Eukaryota |
| Koninkryk: | Animalia |
| Filum: | Chordata |
| Klas: | Actinopterygii |
| Orde: | Clupeiformes |
| Familie: | Clupeidae |
| Genus: | Sardinops |
| Spesie: | S. sagax |
| Binomiale naam | |
| Sardinops sagax (Jenyns, 1842) | |
Die sardyn (Sardinops sagax) is 'n seevis wat rondom die hele Suid-Afrikaanse kus aangetref word en in groot skole voorkom. Hulle kom ook voor in die noordelike Stille Oseaan en staan ook bekend as die pelser in Afrikaans, of pilchard in Engels. Die hulpbron word sedert die eeuwending oorbenut en sardyne was in 2019 byna afwesig in sekere areas van die Weskus.[1]
Voorkoms
[wysig | wysig bron]Die vis is silwer van kleur met 'n ry swart kolletjies aan die kante en word 28 cm groot. Die vis kom in skole voor en is verantwoordelik vir die jaarlikse sardienstormloop aan die kus van KwaZulu-Natal.
Habitat
[wysig | wysig bron]Daar is twee bevolkings van die sardyn aan die Suider-Afrikaanse kus. Die een groep kom by Namibië voor; van Angola suidwaarts tot by Lüderitz, en die ander groep van die Oranjerivier af tot by Maputo. Die twee bevolkings sal nie meng nie omrede daar 'n konstante opwelling van koue water naby Lüderitz plaasvind.
Die Suid-Afrikaanse bevolking skiet kuit gedurende die lente en somer op die Agulhasbank terwyl daar ook 'n kleiner kuitskietaksie aan die kus van KwaZulu-Natal plaasvind gedurende die winter en lente. Die eiers en larwes van die Agulhasbank dryf dan weswaarts. Die klein vissies versamel naby die kus van die Wes-Kaap gedurende die herfs en winter en migreer dan suid en ooswaarts waar die kuitskietaksie weer begin.
Die sardyn eet onder andere soöplankton en word op hulle beurt gejag deur snoek, tuna, geelstert, leervis, geelbek, kabeljou, verskeie haaie, dolfyne, robbe en pikkewyne.
Kommersiële waarde
[wysig | wysig bron]Die sardyn is baie belangrik vir die Suid-Afrikaanse sowel as die Namibiese kommersiële visvangbedrywe. Gedurende die vroeë 1960's is daar 400 000 ton per jaar gevang deur die Suid-Afrikaanse bedryf, maar dit het tot 70 000 ton per jaar in 1967 afgeneem. Die Namibiese tonnemaat was 1 400 000 ton per jaar in 1968 en het geval tot 300 000 ton per jaar in 1971 en het tussen 1978 en 1988 konstant onder 100 000 ton per jaar gebly.

Jaarlikse sardienstormloop
[wysig | wysig bron]Die jaarlikse sardienstormloop word veroorsaak deur veranderinge in die temperatuur van die water aan die ooskus. Gedurende Mei en Junie word warm water aan die ooskus vervang met koue water van minder as 20 °C. Hierdie koeler water maak dit moontlik vir groot skole sardyne, ansjovis en rondeoogharing om nader aan die land en noordwaarts te beweeg. Hierdie groot skole word maklik deur haaie en dolfyne na vlakker baaie gedryf waar hulle gevang word deur mense, seediere en seevoëls.
Sien ook
[wysig | wysig bron]Eksterne skakel
[wysig | wysig bron]Bronne
[wysig | wysig bron]- First Field Guide to Fishes of Southern Africa. Rudy van der Elst. 1999. ISBN 978-1-86872-288-4
- Sea Fishes of Southern Africa. Rudy van der Elst & Dennis King. 2006. ISBN 978-1-77007-345-6
- Coastal Fishes of Southern Africa. Phil & Elaine Heemstra. 2004. ISBN 1-920033-01-7
- ↑ Verwysingfout: Invalid
<ref>tag; no text was provided for refs namedbuc1